Lank, lank gelede in die Groot Karoo
Lank, lank gelede in die Groot Karoo
KORBEELHUIS
FOTO’S EN PRODUKSIE LIEN BOTHA WOORDE RAYMOND SMITH
EERSTE GEPUBLISEER IN VISI-TYDSKRIF (HERFS 2007)
Die wêreld het lankal van Stuurmansfontein vergeet, en dit is goed so. In die koel Karoo-igloes op dié ou plaas – ‘n nasionale monument – is dit net jy, die veld en die verre verlede.
Om Stuurmansfontein te bereik, moet jy ver weg van die N1 swaai, noordwaarts in die rigting van Fraserburg. Tussen Fraserburg en Loxton lê ‘n lang grondpad, en die kans om ‘n ander reisiger raak te loop, is skraal. Op Loxton kan Gert Spies van Spies-produkte jou alles vertel wat die laaste dertig jaar hier rond gebeur het, maar jy moenie te lank draai nie, want die pad is nog lank. By Carnarvon koop jy die laaste verversings, want van hier af is dit eensame ruiter-kontrei so ver as die oog kan sien.
Dertig kilometer tussen Carnarvon en Williston, anderkant drie eensame rondawels langs die sylyn, draai ‘n grondpad na regs en vir 27 km kronkel-kronkel jy saam, verby ‘n oase genaamd Bethlehem, deur twee skaaphekke, tot die korbeelstruktuur ** op die vlakte verskyn – anderwêrelds soos die moskee in Larabanga.
Jy kom ongeveer 200 jaar ná die trekboer aan wat dié koepelvormige korbeelstruktuur soos ‘n katedraaltjie in die wye Karoo-landskap laat verrys het. ‘n Droë rivierbed lê noord van die stoep langs ‘n klipplaat van waar die plat bouklippe waarskynlik gekom het. Effe ongelowig gaan jy die huis binne – ‘n nasionale monument wat nou ook ‘n gastehuis is – en ontmoet vir Eva Olyn en Pokkie Malan, twee vriendelike nasate van die San, besig om vars rose in kopervase te rangskik.
Dit is kalm en koel binne en voel na baie lank gelede, so asof die huidige eienaars, Piet en Charmaine Botha, se voorouers binnekort gaan opdaag vir middagete. Jy maak eers kennis met die eetkamer wat deel vorm van die latere aanbousels. Daar is hoë houtplafonne en ‘n solderkamer. Piet se oumagrootjie se sopkom staan nou vol rose op die wit kas en blykbaar loop die gees van Fanie Bergh (die laaste bywoner wat nog in die jare sestig hier gewoon het) op die solder. Fanie het glo alles van granate tot druiwe in die kaf en strooi gebêre sodat ‘n mens nog druiwe kon geniet lank na druiwetyd, al was die helfte reeds rosyne.
Links van die eetkamer is ‘n slaapkamer met een outydse katel, wastafel en hangkas. Die akkerhout ruik na waspolitoer en die linne is kraakvars. Vanuit die noordelike aansig se venster kyk jy af na ‘n kleiner korbeelstruktuur, die dorsvloer, omtrent 100 m weg van die huis.
Regs van die eetkamer is die ruim korbeelsitkamer waar dit dadelik skemer word as jy die luike toetrek. Die vertrek se breë mure is in konsentriese sirkels gebou wat in die middel van die dak by die sluitsteen bymekaar kom. In dié sentrale punt is die kamer omtrent 2 m hoog.
Charmaine glo die afgeleë ligging van Stuurmansfontein is geen rede om jou nie met mooi te omring nie. Sy het benut wat tot haar beskikking was – van Ouma Lettie se gebruiksborde tot meublement – en het regdeur die gastehuis ‘n sjarmante skamelsjiek interieur geskep. Op die trommel rus boeke vir voëlkyk en veldblomme soek, want Piet glo die mens is veronderstel om met die natuur saam te lewe. Hy sê die plantegroei is aangepas om dié ekstreme klimaat te kan hanteer, mits dit nie oorbenut word nie. Sodra dit gebeur, verdwyn die klappiesbrak, koggelmandervoet, daggapitkaroo en akkedisstert, en die wêreld hier word hartseer doringveld.
‘n Mens moet effens buk om deur die geelhoutkosyn tot in die hoofslaapkamer te kom. Dit is ‘n kleiner korbeel as die sitkamer, maar die dak en mure is ook wit gekalk om meer lig binne te laat. Voor die oop venster fladder ‘n gehekelde gordyn en ‘n swart skaapvelletjie rus in die alkoof.
Die kombuis met sy klassieke Welcome Dover-stoof is langs die eetkamer, maar die besoeker kan gerus vergeet van self kook – sagter as Charmaine gaan jy die lamsboud nie sommer gaarmaak nie. Wanneer jy deur die agterdeur na buite loop, sien jy ‘n klipstort aan die voet van die suidwestelike koppies en ‘n asbosskerm vir skaapbraai en potbrood. As jy gelukkig is, dalk ook ‘n swerm windswaels wat met staccato-klankies heen en weer swiep. Hul knap moddernessies is gebou teen die muur van ‘n buitevertrek wat een van twee moderne kommoditeite op die plaas huisves: ‘n spoeltoilet. Die ander is ‘n gas-yskas.
Op die stoep kan jy kyk hoe die laatmiddag room word, soos Van Wyk Louw gesê het, en bly sit tot lank ná die son gesak het. Wanneer dit nag word en Canopus, die somerboodskapper, in die suidoostelike sterrehemel verskyn, sit jy steeds en wonder oor Fanie Bergh of die swerwende iXam-mense en destyds se eensame trekboere …
Veel later stap jy met ‘n blaker kamer toe en as jy dan onder die wit koepel aan die slaap raak, deure en vesters wyd oop, voel jy of jy tuisgekom het in die verre verlede.
DIE KAROO SE KORBEELHUISE **
Vierduisend jaar gelede het megaliet-bouers in dele van Europa reuse-klippe of megaliete opmekaar gestapel om koepelvormige wonings te bou. Hierdie geboue was heelwat kleiner as dié in die Karoo en Vrystaat, maar stem ooreen met strukture in Portugal – veral waar oneweredige steierstellasie-stene gebruik is om die kopels te bou en onderhou. Dit het aanleiding gegee tot die populêre aanname dat ‘n Portugese bouer saam met die trekboere in die vroeë 19de eeu getrek en hulle geleer het om só te bou.
Presiese konstruksiedatums is onbekend. Volgens wyle dr. James Walton, gewese president van die Inheemse Argitektuurvereniging van Suid-Afrika, het die ontdekkingsreisiger en natuurvorser William Burchell in 1811 deur hierdie streek gereis, maar nooit van sulke strukture melding gemaak nie. Dit mag wees dat hulle nie op sy roete te sien was nie. Volgens Walton is die vroegste datum wat op ‘n struktuur aangebring is, 1851.
Klip en modder was die enigste beskikbare boumateriaal. Nomadiese trekboere het jaarliks opgedaag om hul vee te laat wei van die begin van die winter tot Oktober. Hulle het behoorlike skuilings benodig en aangesien daar toenemend konflik met die San was, ook beskerming. Die geboue het slegs twee openinge gehad: ‘n klein venster wat ‘n direkte uitsig verberg, deels as beskutting teen San-pyle, en ‘n deur regoor die venster. Die openinge is met velle of hout bedek. Vensters en deure is eers jare later bygevoeg. Die mure wat nou wit is, was destyds van natuurlike steen.
Aanvanklik is een kobeelstruktuur gebou. Die volgende winter is ‘n volgende struktuur met ‘n gedeelde deuropening langsaan opgerig. Toe materiale soos hout jare later bekombaar word, het die geboue en eenvoudige buitegeboue reghoekig geword. Boere het langer daar begin oorbly; families het groter geword en meer ruimte benodig. Die eenvoudige landelik-Kaapse volksboustyl het onstaan – in hierdie geval is dié nuwe huis aangrensend aan ‘n tros korbeelhuise opgerig.